TUIS | BIOGRAFIE | OPTREDES | MUSIEK | KONTAK facebook you tube


BIOGRAFIE

JEUGJARE

Jannie du Toit - liedjieskrywer en sanger van Afrikaanse en Nederlandse kleinkuns - is op 13 Desember 1951 gebore in Heidelberg. Hy neem klavierlesse vanaf sesjarige ouderdom, maar begin kitaar speel op vyftien en het altyd daarvan gedroom om net musiek te maak.

VROEË LOOPBAAN AS SANGER

Hy het in 1971 as student in 'n pop/rock-groep gespeel, maar ook betrokke geraak by Afrikaanse musiek as lid van die folkgroep TRILOGIE. Hy voltooi sy B Iuris-LLB by RAU (nou Universiteit Johannesburg, UJ) maar verlaat die regsberoep in 1980 om 'n musiekloopbaan te begin.

Saam met onder andere Koos du Plessis, Laurika Rauch, Anton Goosen, Louis van Rensburg en Coenie de Villiers, speel hy 'n belangrike rol in die Musiek- en Liriek/Luisterliedjie-beweging van die laat sewentigerjare.

EERSTE TREË AS PROFESSIONELE KUNSTENAAR

Hy word in 1980 deur prof Chris Lamprecht by Tukkies aangestel waar hy vir 'n studentegroep onder andere LOELOERAAI skryf saam met prof Anna Neethling-Pohl - een van die heel eerste musiekblyspele in Afrikaans. Dit was gebaseer op Langenhoven se "ruimtefiksie" van 1923.

Sy eie oorspronklike blyspel, GANSDANS, ontstaan ook in dié tyd. By sy huis, Margaretastraat 28 in Pretoria, begin hy in 1981 met legendariese liedjie-aande wat 'n belangrike baken van die MUSIEK EN LIRIEK-era bly.

In 1987 stel regisseur/akteur/digter Stephan Bouwer Jannie aan die kabaretverhoog - en die Nederlandstalige musiek wat hom reeds sedert 1980 geïnteresseer het, bekend. Die program saam met Laurika Rauch, getitel VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN, sou sy verdere loopbaan sonder twyfel baat.

OM DIE WÊRELD SAAM MET CHRISTA

Jannie werk sedert 1986 saam met die virtuose Christa Steyn as sy begeleier, verwerker, medeskrywer en verhoogvennoot. Vir 25 jaar het hulle oral in Suid-Afrika en in 21 ander lande musiek gemaak.

Hulle gesamentlike verhoogprojekte - dikwels saam met ander topkunstenaars - sluit BLIK EN SNAAR, SKADU'S TEEN DIE MUUR, DE KLEINE MAN, NAGKANTOOR, JANNIE EN DIE TANNIE en BREL IN BROOLYN in - om maar enkeles te noem.

Hulle was ook twintig jaar lank saam met Lucas Maree en Johann van der Watt betrokke by die ATKV se Liedjieskryfwerkswinkel. Hulle gesamentlike werk is verewig op 'n verskeidenheid CD's, DVD's en ook op televisieprogramme en destydse langspeelplate.

VENNOTE IN MUSIEK

Nadat Christa in 2012 'n jaarlange stryd teen kanker verloor het, werk hy saam met ensemble's wat tjello, (Susan Mouton) klavier en akkordeon (Coenraad Rall en Chanie Jonker) insluit.

ONDERWEG was die verhoogproduksie - saam met 'n vierstuk CD/DVD-stel en 'n koffietafel-boek - waarmee hy in 2011 sy 40 jaar in Afrikaanse musiek gevier het.

Daarna het GRYS AREAS met Renette Bouwer en DIE CORDON BROERS se KOSSêRT saam met Lochner de Kock gevolg. Sy musiekverwerkings word nou deur die briljante jong pianis, Clinton Zerf gedoen en sy program oor die musiek van Koos du Plessis - DOEP IS NIE DOOD NIE, is landwyd gewild.

NEDERLANDSE KLEINKUNS

Jannie het gedurende die oplewing in Afrikaanse musiek van die sogenaamde Luisterlied van die Nederlande gehoor. Hy het aan die einde van dieselfde jaar, 1979, Herman van Veen se album DE WONDERLIJKE AVONTUREN VAN HERMAN VAN VEEN in Amsterdam gekoop en is so daardeur begeester dat hy tot vandag toe groot waarde plaas op die wisselwerking tussen Afrikaanse en Nederlandse musiek.

Sy eie musiek en sy musiekloopbaan is ingrypend deur daardie "Eureka-ervaring" beïnvloed. Sy persoonlike held is Jules de Corte, wie se liedjies hy en Christa vir jare uitgevoer het en wat hy ontmoet het 'n maand voodat de Corte in 1996 oorlede is.

In 2014 het hy saam met Bert van den Brink konserte van De Corte se musiek aangebied – GRENZELOOS NEDERLANDS. Hy het ook persoonlik bevriend geraak met Robert Long en het deur die jare ook liedjies van Herman, Robert en talle ander Nederlandstalige kunstenaars op sy albums en in verhoogproduksies bekend gestel.

JNS MUSIEK

Jannie begin JNS Musiek om minder kommersiële Suid-Afrikaanse musiek te bevorder. Dié onafhanklike musiek-katalogus wat in die negentigerjare oor 'n honderd CD's vrygestel het, beywer hom steeds vir artistiek uitstaande musiek.

TOEKENNINGS

Benewens talle vererings uit kultuur- en kunstegeledere deur die jare, ontvang Jannie in 2008 'n erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae op die gebied van ligte Afrikaanse musiek.













tuisblad  |  biografie  |  optredes  |  musiek  |  kontak  |  voorwaardes